CHS sport vs. Aliwal-Noord

Posted by:Principal onJune 14, 2018

Hoërskool Cradock se sportspanne het die afgelope naweek op hul tuisveld teen die spanne van Aliwal-Noord Hoërskool te staan gekom.

Die dag se program het afgekop met twee puik netbalwedstryde, wat onderskeidelik deur die o.14A- en o.16B-spanne gespeel is.  Die o.16B’s het gerieflik met 19 – 9 gewen terwyl die  o.14A-span ‘n wegholoorwinning van 26 – 2 behaal het.  Die o.16A-span speel die tipe netbal waaraan toeskouers gewoond is en wen hul wedstryd met ‘n pragtige 23 doele teenoor 9.  Al drie hierdie spanne is nog onoorwonne vanjaar.

Die o.19B-span het met 18 – 14 verloor, maar tog goed teruggeveg na ‘n aanvanklike groot agterstand. CHS het die hoofwedstryd met 26 – 25 gewen.  Dié wedstryd tussen die eerstespanne het baie gelykop verloop met CHS wat na die eerste kwart met twee doele voorgeloop het.  Teen rustyd was CHS se voorsprong 14 – 13.  Ongelukkig was Chamrine Booysen ongesteld en moes sy die baan verlaat.  Dit het ‘n paar posisionele skuiwe genoodsaak wat goed deur die opponente uitgebuit is.  Na die derde kwart het Aliwal met
22 – 20 voorgeloop.  CHS kom egter baie goed terug in die laaste kwart om die wedstryd te wen.

Op die rugbyveld het die Kwaggas ook goeie uitslae gelewer.     Die o.14-span behou hulle vorm en wen die eerste wedstryd van die dag 38 – 15.  Die o.16-span speel ‘n taai wedstryd teen waardige opponente en hoewel beide spanne se aanvalle glad uitgevoer is kon beide CHS en ANHS daarin slaag om slegs 5 punte elk aan te teken.  Díe wedstryd eindig dus gelykop.

CHS se eerste rugbyspan pak in die hoofwedstryd van die dag die eerste XV van ANHS.  Theuns van der Nest breek deur ANHS se verdediging en druk ‘n pragtige drie wat deur Lesego Leseli verdoel word.  Lesego se skopskoen is bitter akkuraat en hy stuur ook ‘n strafskop netjies tussen die pale deur.  ANHS antwoord egter terug met goeie spanwerk en afronding om hierdie wedstryd 27-10 te wen.

Die hokkiedogters van Hoërskool Cradock beleef gemengde welslae op die hokkieveld.  Die juniors van die derdespan speel ‘n goeie wedstryd teen ‘n ervare span van ANHS, wat die wen beklink.  Die tweedespan vaar beter in hul wedstryd en slaag daarin om die span van ANHS hard te laat werk vir hul doele.  Die Kwaggas speel aanskoulike hokkie en ondanks volgehoue verdediging moet hul die wen afstaan aan ANHS.  CHS verloor die wedstryd 3-0.

Tydens die eerstespankragmetings is dit egter duidelik dat ervaring en deursettingvermoë ‘n besliste impak op die uitkoms van ‘n wedstryd het.  Die dogters van CHS se eerstespan speel ‘n uitmuntende wedstryd en hou die toeskouers vasgevang met hul spel, spoed en effektiewe bewegings.  Teen halftyd is die telling 1 – 1.  CHS het ‘n gedugte span wat hul kanse goed benut om punte aan te teken.  Hierdie dogters reken met ANHS se eerstespan af in ‘n baie opwindende wedstryd en wen 3 – 2.

CHS bedank graag al die ouers, leerders en toeskouers wat op die dag ons spanne van die kantlyn af aangemoedig het.  Geluk aan al die spanne met hul onderskeie oorwinnings en dankie aan Aliwal-Noord Hoërskool vir ‘n dag van goeie wedstryde en sportmanskap.

 


 

 

 

 

 

 

 

 

Op die foto:
(netbal)Chamrine Booysen, netbalspeler vir CHS se eerstespan, verdedig die doelpaal in Saterdag se die kragmeting teen Aliwal-Noord Hoërskool.
(hokkie)  Jani Hatting op pad die aanval in Saterdag se eerstespanwedstryd teen ANHS.

Leave a Reply

Website designed by Juslogon 2016
Copyright © CHS Alumni