June 14, 2018 0

Hoërskool Cradock koester die kunste

Posted by:Principal onJune 14, 2018

CJ Langenhoven het eenmaal gesê: “Om te lewe is ‘n kuns”.  By Hoërskool Cradock is hierdie woorde sigbaar in ons leerders se allerdaagse take.  Die personeel en leerders van hierdie pragtige Karoo-skool streef elke dag daarna om die balans te handhaaf tussen die akademiese-, sportiewe- asook die kulturele aktiwiteite waarmee die leerders daagliks besig is.

Die Skeppende Kunste klas bied aan leerders die geleentheid om uiting te gee aan hul kreatiewe denke, sommige leerders maak hier vir die eerste keer kennis met hul kunstige sy.  Die graad 8-leerders van CHS het die afgelope tydperk hul handewerk op papier uitgebeeld en elk hul eie interpretasie van hande geteken.  Die resultaat is asemrowend, ‘n tapiserie van potloodsketse.
Dit is egter nie nét huidige leerders van CHS wat pragtige kunswerke oplewer nie.
Salene Bekker, matrikulant van 2017, het onlangs haar eie kunswerk opgelewer wat maklik deur Jan Alleman verwar kan word met die ware Jakob.  Salene, ‘n student aan die Universiteit van Stellenbosch, het as deel van die Drama Departement se tegniese kurrikulum ‘n pragtige Trechikov opgelewer.

Dit is wonderlik om te sien hoe Kwaggas hulself en hul vaardighede by CHS ontwikkel en leer om ‘n liefde vir die kunste te koester.

Leave a Reply

Website designed by Juslogon 2016
Copyright © CHS Alumni